Elke seisoen hier in Korea het sy eie bekoring. Herfs hier is ‘n pragtige tyd, wanneer die plate bladwisselende bome, elk met unieke skakerings, hulle groen somersjas afskud. Die lug is meestal blou, die dae stil en die landskap is mooi impressionisties geskets, asof deur kunstenaars van oud.

Teen November is die dae aanvoelbaar kouer en teen Desember is die pragtige kleurespel abrupt verby. In die winter is alles kaal, vaal, geel en verlep soos die vriespunt temperature hul tol begin eis. Dit laat mens met ‘n gevoel van verlatenheid agv die totale afwesigheid van kleur in die natuur. Teen einde Desember en Januarie begin dit egter sneeu en die kaal landskappe word oornag omgetower in ‘n wit sprokieswereld waaraan die oog homself kan verlustig.




Die sneeu wyk, dit word effe warmer en teen einde Maart maak die lente ‘n dramatiese buiging met ‘n kakofonie van kleur wat jou sintuie totaal oorweldig. Vir ‘n paar weke word die natuur se nuwe lewe deel van jou en stap jy ook sommer met ‘n ligter tred. Teen middel Mei volg die somer…





Ek het nog altyd geglo dat elk van hierdie seisoene inderdaad hulle eie, unieke bekoring het…behalwe somer. Weliswaar is die sporadiese donderstorm aangenaam en orals waar jy kyk, sien jy net groen…later eentonig groen. Maar dis bedompig, klewerig en al gevoel wat jy die heeltyd van bewus is, is die permanente, irriterende klammigheid op jou vel. Die dae is deinserig en soms voel dit of jy die vog wat om jou hang, met ‘n mes kan sny. Jy is tam en nie entoesiasties om veel te sien of te ontdek nie. Jy bly ook permanent dors.

Maar dan begin jy dit versigtig buite waag, neem verlief met jou ongemak en die klam klere wat altyd kleef. En, kom wat wil, jy vat die pad uit die stad en soek die natuur op. En te midde van die hitte, kom jy agter daar is baie meer voels as gewoonlik, baie van die plante blom nou eers ten volle en jy begin die honderde insekte en gediertes ervaar vir wie somer soos ‘n handskoen pas.




Die groenbegroeide paadjies wat jy stap is skielik mooi en herinner aan die bangmaakbosse van die Suid-Kaap. Jy stop dikwels om voels te kyk en ook die honderde verskillende gogga-gediertes waar te neem, elkeen trots met hulle eie vorm en kleur.

Die talle ryslande, wat in die ander seisoene soos brandsiekmerke op die landskap le, is nou geilgroen en skep pragtige windwuifende panoramas. Dan besef jy dat die somer wel sy eie bekoring het, synde dat dit die seisoen is wat die natuur regtig leef! Die somer is warm en ongemaklik, maar soos al die ander seisoene hier, bied dit vir die wat die pad vat, die beloning van unieke skoonheid.



