Geluk, Yelena!


As jy goed is, is jy nou maar eenmaal goed! Gister het Yelena Isinbayeva , soos te wagte, stof in haar teenstanders se gesigte geskop deur die goue medalje in paalspring te wen met ‘n nuwe rekordhoogte van 5.05m. Haar naaste teenstander (wat toevallig voor die finaal vermakerig grootbek was) kon maar net 4.80m spring. Yelena is duidelik in ‘n klas van haar eie!

NS: My gelukwense ook aan Khotso Mokoena wat gister Suid-Afrika se eerste (en enigste?) medalje van die Olimpiese Spele verower het, toe hy tweede in die verspring geeindig het.

Sondagaand-song (II)

Time Bandits - Endless Road

‘n Hartseer song…en een van my gunsteling songs van vervloe dae…Ons almal op reis op hierdie bestemmingslose roete na wie-weet-waar.

Wintervers

Met my muse soek en my eie woorde soldaatagtig verstok, is ek bly daar is nog mense soos jy, my vriend, wie se woorde nog vry is…wie se woorde nog sagvoet kan vlerk gee aan gevoelens. Dis woorde wat salwend deur stagnante denke breek en my weer ruimte skenk, wanneer my eie spasies so klein word…

Winter

as die lug more

uit-die-blou-van-ons-hemel blou is

en die skadu’s winterig sag

soos kinderklere met slaaptyd

die vloere van jou tuin vol le

 

neem tog vir my ‘n oogfoto

soos met ‘n gaatjieskamera

en woord die beeld

op die kreukelvrye wit papier

van jou rekenaarskerm neer

 

mail dit dan

onverfraai deur akademies ligsinnige lintjies

stuur dit snelpos sodat ek

in daardie jong uurtjies van die dag

wanneer alle spasies om my klein word en ek

verban staan tot die buitewyke van die nag

 

oor jou pas gesnyde grasperk heen

tot in jou dag kan kyk

 

(c) Johan Horn

Julie 2008

Die Spele skop af!

S7300018

My Mosaiek

Koningin Seondeok van Silla

Meeste van die grasgrafte in Gyeongju is redelik sentraal gelee en maklik toeganklik. Maar soms moet mens so ‘n bietjie die minder-bewandelde paaie aandurf om van die ander historiese grafte te siene te kry.

S7305706Ek het besluit om myself weg te skeur uit my koel, lugversorgde woonstel en die uitmergelende, humiede Koreaanse somerweer aan te durf. Die pad het my geneem na Nangsan, ongeveer 8km uit Gyeongju se middestad. Hier word daar na Nangsan as ‘n berg verwys, maar inderwaarheid is dit maar ‘n reeks van groot, aaneenlopendeS7305695 heuwels. Nangsan word as ‘n heilige berg beskou. Volgens legende het Koning Silseong (heers vanaf 402-417vC) van Silla in die jaar 413 gesien hoe ‘n groot, verligte wolk op Nangsan neerdaal. Na die wolk weer verdwyn het, het ‘n baie aangename geur oor die berg bly hang. Silseong was oortuig dat dit ‘n hemelse god is wat die berg besoek het. Hy het die berg heilig verklaar en beveel dat geen bome op S7305694hierdie berg mag afgekap word nie. Hierdie bevel word tot vandag toe in stand gehou en daarom is Nangsan pragtig ruig, groen en ongerep. Hoe dit ookal sy, ek het gesweet langs Nangsan se pragtige wandelpaadjies, deur die skewe dennebosse om uiteindelik papnat en uitasem bo-op Nangsan, Koningin Seondeok se graf te vind.

S7305686

Seondeok het geheers vanaf 632 tot 647 en was die eerste koningin van die Silla Dinastie (en een van net 3 koninginne wat Silla ooit gehad het in die koninkryk se byna duisendjarige bestaan). Sy was ‘n baie gewilde heerser en word onthou as ‘n buitengewoon intelligent en begaafd. Haar pa, Koning Jinpyeong (heers vanaf 539-632), het geen seuns gehad nie en daarom het sy oudste dogter hom opgevolg op die jeugdige ouderdom van 22. Tydens haar heerskappy het Silla vooruitgegaan. Sy het Silla se S7301131bande met die Tang Dinastie in China uitgebou en landmerke in Gyeongju wat vandag nog bestaan, is in haar opdrag gebou. Onder die bekendstes tel Bunhwangsa tempel en Cheomsangdae. Laasgenoemde was die eerste sterrewag in die Verre Ooste en die steenstruktuur staan vandag nog as teken van Silla se vooruitstrewendheid. Sy het ook die groot Hwangryongsa tempel klaar gebou, insluitend ‘n indrukwekkende 12 verdieping pagoda van hout. Ongelukkig is hierdie strukture in die 13de eeu deur Mongoolse invallers vernietig.

Seondeok se heerskappy was egter nie sonder probleme nie. Sy het twee staatsgreeppogings oorleef en was in verskeie oorloe met die Baekje Koninkryk gewikkel. Die bekende Generaal Kim Yu Sin was een van haar getrouste ondersteuners en het ‘n leidende rol gespeel om dieS7305688 staatsgreeppogings te onderdruk, asook in die oorloe teen Baekje. Volgens oorlewering het was Seondeok heldersiende en agv hierdie gawe is vele veldslae teen Baekje gewen. Sy het ook die dag en datum van haar dood presies reg voorspel. Reeds voor haar dood het sy versoek om in Nangsan begrawe te word. En dis hier waar sy steeds rus bo-op die berg, in ‘n groot graf in die middel van die ongerepte bosse.

Vandag word Koningin Seondeok beskou as as een van die wysste heersers wat Korea nog gehad het en word ge-eer as een van Korea se geskiedkundige vrouehelde.

Steurgarnale en Sauvignon Blanc op ‘n Saterdagaand

Die vorige keer toe ek steurgarnale ge-eet het, moes ek dit rou eet. Hierdie keer het ek hulle self gaan koop en seker gemaak die outjies is gaar. Vars gevang uit die Oos-see, het ek hulle in die pan gegooi en net hier en daar die nodige sousie en spesery bygevoeg.

S7305748S7305751

S7305753S7305754

Die resultaat was smullekker! Op die koop toe, was ek baie bevoorreg om ‘n Chileense Sauvignon Blanc op te spoor en, hoewel nie epogmakend nie, was die wyntjie aangenaam en ‘n perfekte maat vir die see-gediertes. Lekker bly darem maar lekker!

Somer

Elke seisoen hier in Korea het sy eie bekoring. Herfs hier is ‘n pragtige tyd, wanneer die plate bladwisselende bome, elk met unieke skakerings, hulle groen somersjas afskud. Die lug is meestal blou, die dae stil en die landskap is mooi impressionisties geskets, asof deur kunstenaars van oud.

S7305658

Teen November is die dae aanvoelbaar kouer en teen Desember is die pragtige kleurespel abrupt verby. In die winter is alles kaal, vaal, geel en verlep soos die vriespunt temperature hul tol begin eis. Dit laat mens met ‘n gevoel van verlatenheid agv die totale afwesigheid van kleur in die natuur. Teen einde Desember en Januarie begin dit egter sneeu en die kaal landskappe word oornag omgetower in ‘n wit sprokieswereld waaraan die oog homself kan verlustig.

S7305623S7305545S7305572S7305627

Die sneeu wyk, dit word effe warmer en teen einde Maart maak die lente ‘n dramatiese buiging met ‘n kakofonie van kleur wat jou sintuie totaal oorweldig. Vir ‘n paar weke word die natuur se nuwe lewe deel van jou en stap jy ook sommer met ‘n ligter tred. Teen middel Mei volg die somer…

S7305476S7305630S7305635S7305637S7305632

Ek het nog altyd geglo dat elk van hierdie seisoene inderdaad hulle eie, unieke bekoring het…behalwe somer. Weliswaar is die sporadiese donderstorm aangenaam en orals waar jy kyk, sien jy net groen…later eentonig groen. Maar dis bedompig, klewerig en al gevoel wat jy die heeltyd van bewus is, is die permanente, irriterende klammigheid op jou vel. Die dae is deinserig en soms voel dit of jy die vog wat om jou hang, met ‘n mes kan sny. Jy is tam en nie entoesiasties om veel te sien of te ontdek nie. Jy bly ook permanent dors.

S7305742

Maar dan begin jy dit versigtig buite waag, neem verlief met jou ongemak en die klam klere wat altyd kleef. En, kom wat wil, jy vat die pad uit die stad en soek die natuur op. En te midde van die hitte, kom jy agter daar is baie meer voels as gewoonlik, baie van die plante blom nou eers ten volle en jy begin die honderde insekte en gediertes ervaar vir wie somer soos ‘n handskoen pas.

S7305640S7305602S7305605S7305603

Die groenbegroeide paadjies wat jy stap is skielik mooi en herinner aan die bangmaakbosse van die Suid-Kaap. Jy stop dikwels om voels te kyk en ook die honderde verskillende gogga-gediertes waar te neem, elkeen trots met hulle eie vorm en kleur.

S7305653

Die talle ryslande, wat in die ander seisoene soos brandsiekmerke op die landskap le, is nou geilgroen en skep pragtige windwuifende panoramas. Dan besef jy dat die somer wel sy eie bekoring het, synde dat dit die seisoen is wat die natuur regtig leef! Die somer is warm en ongemaklik, maar soos al die ander seisoene hier, bied dit vir die wat die pad vat, die beloning van unieke skoonheid.

S7305722S7305717S7305709S7305723

Saterdagaand-song (II)


Hierdie song voer my terug na sorglose dae, toe ek nog naief geglo het die lewe hou net die goeie in. Maar dit was goeie dae van “wonder-nie-wat-more-sal-bring-nie”. Nou is ek veel ouer en gestroop van al my illusies. Ek luister nie meer die song so baie nie, maar as ek dit luister (soos vanaand) word ek momenteel weer verplaas na daardie sorglose bestaan wat lank terug so deel van my was…

Weet jy wie is Yelena Isinbayeva?

Yelena Isinbayeva

Wel, jy behoort te weet…

Een van die beste vroulike atlete ooit.

Die Beijing Olimpiese Spele is om die draai en ek het haar reeds gekies as my gunsteling atleet. Ek gaan nie ‘n oomblik van haar vertoning mis nie…

« Previous entries